Mandjie

Geen produkte nie

Aflewering Om bepaal te word
Belasting R 0
Subtotaal R 0
Pryse sluit belasting in

Ons Helde

Our-Heroes-min.jpg

Dis nou regtig 'n interessante storie - vanwaar Pet Hero se ongelooflike span helde? Ons Helde het elkeen 'n unieke lewensverhaal wat van hulle gemaak het wie hulle vandag is. As gevolg van Pet Hero, het hul lewens verbeter en het hulle hul roeping ontdek.

Hoofstuk 1 - Patch

Een vroeë oggend in Johannesburg, terwyl 'n man besig was met sy oggenddraffie, sien hy 'n kartonboks effens beweeg. Alhoewel die man nuuskierig was om te sien wat in die boks is, was hy ook ietwat skrikkerig om te loer. Net toe hy besluit om eerder verder te draf, hoor hy 'n sagte tjankgeluid. Hy't dadelik ondersoek ingestel en sien toe die oulikste labrador-hondjie met die mooiste ogies.

Die man was in 'n moeilike situasie en het glad nie geweet wat om te doen nie. Hy wou nie die hondjie net so in die straat los nie, maar hy't ook nog nooit voorheen 'n hondjie gehad nie. Wat sou sy vrou sê as hy met die hondjie by die huis aankom?

Uiteindelik het hy besluit om die hondjie tog saam te vat huis toe. Hy was huiwerig om die hondjie aan sy vrou te wys, maar sy't onmiddellik breed geglimlag en gesê dat hulle hom beslis moet hou. Hulle sou hom Patch noem.

Albei was vreeslik opgewonde en het dadelik aanlyn begin snuffel vir die nodige voorraad en bykomstighede. Pet Hero het presies gebied wat hulle nodig gehad het.

Toe hulle die middag by die huis kom, het hul bestelling reeds vir hulle gewag. Hulle het opgewonde alles begin uitpak en vir Patch gewys wat hulle alles vir hom aanlyn gekoop het. Patch was oorstelp van vreugde toe hy sy nuwe halsband, harnas en leiband sien. En dan was daar boonop 'n paar speelgoed, kos- en waterbakke, 'n bed en die aller lekkerste hondekos en lekkernye!

'n Hele paar maande het verloop en Patch was 'n baie gelukkige en gesonde hondjie by sy nuwe familie. Hy was mal daaroor om buite te speel en elke oomblik aan te gryp. Patch het ook 'n goeie gewoonte aangeleer om gereeld te oefen, sodat hy so gesond as moontlik kon wees.

Eendag, terwyl Patch weer besig was met oefening, sien hy 'n vreemde figuur buite die voordeur. Soos blits het hy al blaffend op die figuur afgestorm. Sy blaf was so kragtig dat die figuur sommer oor die muur gevlieg het en nooit weer teruggekom het nie.

Patch het besef dat hy met 'n wonderlike gawe geseënd is en het besluit dat hy dit graag sal wil gebruik om ander troeteldiere te beskerm. Hy het teruggedink aan die dae voordat hy aangeneem is en het net van vooraf besef hoe gelukkig hy is. Die straat, saam met ander weggooihonde, is nie 'n goeie plek om te wees nie. Alhoewel dit vir Patch 'n baie moeilike tyd was, was hy altyd dapper in enige situasie en het hy sy bes probeer om ander te beskerm.

Patch het sy vorige situasie as inspirasie gebruik en het besluit om sy vermoëns en waardes te gebruik om sy gemeenskap te help. Patch wou 'n akademie begin waar hy ander troeteldiere in nood kon help om hul situasie te oorkom en vir hul 'n beter lewe vorentoe te bied. Hy besef dis 'n groot verantwoordelikheid en dat dit moeilik sal wees om dit op sy eie te doen. Terwyl hy besig is om die akademie te beplan, dink hy aan sy buurman, Linc...

Hoofstuk 2 - Linc

Linc se vorige eienaars het hom sommer net so weggegooi en hy't 'n moeilike lewe in Melville se strate gehad. Hy't gereeld deur die hele area geloop en soek na afvalkos en 'n droë plekkie om te slaap.

Een nag, terwyl Linc besig was om in die strate rond te dwaal opsoek na 'n skuilplek, het 'n groot storm begin vorm. Linc het vervaard vir 'n veilige plekkie gesoek en uiteindelik skuiling agter 'n groot blik gekry. Net toe hy wou insluimer, het hy gesien hoe die weerlig al hoe nader kom. Skielik het 'n harde slag reg langs hom teen die blik geslaan en hy't kiertsregop gespring. Linc het gevoel hoe iets deur hom pols terwyl hy vinnig buite gevaar spring en het skielik besef dat hy vinniger as die gewone kat kon beweeg.

Die volgende dag het Linc se reis begin om uit te vind tot wat hy alles in staat kon wees. Hy't van punt A na punt B gehardloop, terwyl hy sy tyd toets. Hy was elke keer 'n bietjie vinniger.

'n Paar maande later, terwyl Linc in 'n nuwe buurt rondgeloop het, het hy 'n seuntjie teëgekom. Die seuntjie het hom begin streel en met hom gespeel. Linc was uit sy vel van blydskap! Hy't maande laas enige kontak met mense gehad. Die seuntjie het sy ouers gesmeek om Linc asseblief te hou en na 'n paar trane, het hulle ingestem dat Linc deel van hulle gesin mag wees.

Terwyl Linc gewoond geraak het aan sy nuwe huis, het hy ook besluit om 'n bietjie te verken. Linc het op die heining gespring en gesien hoe die bure se hond hardloop en oefeninge doen. Hy't besluit om te gaan kennis maak en so het 'n spesiale vriendskap tussen hom en Patch begin.

Hoofstuk 3 - Die Akademie

Eendag het Patch en Linc gesit en gesels. Patch begin toe vertel van sy idee om 'n plek te begin waar hy ander diere kan help wat deur moeilike tye gaan. Linc het onmiddellik aanklank gevind en hulle het saam aan die akademie begin beplan. Die akademie moes gebou word op 'n sterk sin vir waardes en eenheid en waar ander met mekaar 'n band kon vorm. Die akademie moes ander troeteldiere en hul eienaars inlig en leer.

Na 'n goeie dinkskrumsessie, het Patch en Linc die nodige hulpbronne bymekaar gekry en die Akademie geopen. Die volgende stap was om ander troeteldiere by die akademie te laat aansluit...

Hoofstuk 4 - Taz

In 'n lieflike woonstel in Sandton, het 'n Yorkie genaamd Taz gewoon. Taz het al die speelgoed, lekkernye en bykomstighede gehad wat enige hond kon begeer, maar sy was baie eensaam. Haar ouers was amper nooit by die huis nie en wanneer hulle wel was, het hulle nie veel aandag aan haar gegee nie. Dit het Taz sielsongelukkig gemaak en sy't begin uitvaar teenoor mense, net om 'n bietjie aandag te kry. Sodra iemand in die woonstel sou kom wie sy nie ken nie, sou sy aaneen blaf en hulle selfs probeer byt. Wanneer alleen, sou sy aspris teen voorwerpe stamp sodat dit kon afval en breek. Die min tye wat haar ouers wel by die huis was, sou sy hulle soos 'n stertjie oral volg en hulle aandag probeer kry - meestal op maniere waarvan hulle nie gehou het nie. Elke keer wanneer Taz sou hand uitruk, is sy geslaan en in 'n ander vertrek toegesluit, gewoonlik in die badkamer.

Eendag het Taz genoeg gehad en besef dat al die speelgoed, lekkernye en bykomstighede nie meer genoeg was vir haar nie. Met die eerste geleentheid wat sy gekry het, het sy uit die woonstel die onbekende ingenael en nie een maal omgekyk nie.

Dit het gou-gou donker geword en Taz het geweet sy sal vinnig skuiling moet vind. Daardie nag het sy in die parkering van 'n klein winkelsentrum weggekruip. Terwyl sy so op die koue grond gelê het en aan die slaap probeer raak, het sy gehoor hoe ander rondloperhonde oor een of ander akademie gesels. Die akademie het glo ander honde en katte gehelp om die beste te wees wat hulle kan. Taz het besluit dat sy hierdie akademie gaan soek sodat sy kan leer hoe om gelukkig te wees.

Die volgende dag is Taz die strate op en af en spoor uiteindelik die akademie op. Patch het haar by die deur verwelkom en dadelik kos en water aangebied. Na 'n lang geselsie het Patch en Taz ooreengekom dat sy by die akademie gaan aansluit en Patch en Linc sou hul bes doen om vir haar die beste ouers te kry.

'n Paar weke later het Patch uiteindelik die perfekte huis vir Taz opgespoor. Uit waardering, het Patch vir Taz 'n tanzaniet-steen gegee om aan haar halsband te sit en Taz het onmiddellik gevoel hoe iets binne-in haar verander.

Pet Hero se storie is nimmereindigend - soos die tyd verloop sal meer en meer ontbloot word.

Nuttige inligting
  • Onthou om jou kontak- en persoonlike inligting op datum te hou. Gaan na jou rekening om veranderinge aan te bring, toegang te kry tot jou bestellingsgeskiedenis en om jou lojaliteitspunte op te eis.

  • Ons hou 'n wye reeks kat- en hondeprodukte van al die bekende en betroubare troeteldierhandelsmerke aan. Gee vir jou troeteldiere hul gunsteling produkte, als beskikbaar by jou eenstop aanlyntroeteldierwinkel.

  • Geniet die gerief om jou troeteldierprodukte by jou voordeur afgelewer te kry. Loer na ons Afleweringsinligting

  • Verwys 'n vriend na Pet Hero en jul albei sal 'n afslagkoopbewys ontvang, sodra hulle 'n suksesvolle aankope gemaak het. Meer inligting

  • Lees ons insiggewende wenke, truuks en raad oor hoe om jou troeteldier te versorg. Ons blog dek jou troeteldier se leefstyl, gewoontes, seisoenale tendense, algemene kwale en meer.

  • Met elke bestelling word jou lojaliteit teenoor ons en jou troeteldier waardeer. Verdien punte deur ons lojaliteitsprogram wat in afslagkoopbewyse omskep kan word.